Tuesday, March 31, 2009

Elizabeth Eybers se gedig: DEESDAE


Die muse skyn my deesdae te vermy.
Niks aan te doen. Geduldig verder gaan.
My kleinseun - vyf en 'n half - en ek verstaan
mekaar.  Laat maar, want jij bent oud sê hy
wanneer ek blyk van onbehendigheid
by die saamstel van 'n speelgoedhyskraan gee.
Hy wil gaan fiets.  Dit reent.  Je hoeft niet mee,
dan wordt je haar zo nat.  Dis geen verwyt.
Die dae wedywer om hom te laat gedy,
elke kontoer word liefderyk afgerond, 
gepoets, albasterglimmend en gesond.
Die dae het iets ander voor met my.
Wat ben je stil vandaag.  Geboë oor
sy lego eis hy meer geselligheid.
Ek sing 'n liedjie uit my kindertyd.
Ben jij vra hy beleef ook lid van het koor?
Hy sê opeens het duurt nog heel heel lang
voor jyj doodgaat - nog meer dan honderd dagen.
Gulheid oorskry sy rekenkunde, skraag en
vertroos ons, maak ons bly en amper bang.

No comments:

Post a Comment